Agtergrond
 
     
 

Carnarvon Abattoir (EDMS) BPK is geregistreer 1 Maart 2005. Voorheen het die Abattoir bekend gestaan as Meatrio BK. wat omstreeks 1990 gestig was deur 3 boere, by name wyle Leon Latsky, sy broer Stephan Latsky en Johann Lubbe, wat ten tye die munisipale abattoir op die dorp Carnarvon gekoop het.

 
     
 

Johann Lubbe het na 'n periode sy aandele verkoop aan wyle Ingemar Latsky wat sy vader Leon opgevolg het en Stephan Latsky. Mnr. Danie Franken en Mev. Hanlie Coetzee bestuur Meatrio vir baie jare suksesvol vir die Latsky’s.

 
     
 

Johann Lubbe, Jannie Steenkamp, Bertus Steenkamp, Stegmann Lubbe en Lucie De Klerk stig omstreeks 1996 die Vee Bemarking Agentskap; Topvee.

 
     
 

Topvee ontbind en koop in 2004 die Abattoir by Stephan Latsky en wyle Ingemar Latsky. Daar word besluit om ñ totale opgradering op die abattoir te doen tot hoë deurset, wat 850 skaap per dag kan slag. Die naam Meatrio verander na Carnarvon Abattoir na die transaksie. Na opgradering verkoop die aandeelhouers van die nuut gestigte Carnarvon Abattoir 51% van die aandeelhouding aan die landbou maatskappy KLK geleë in Upington en 22 produsente in Carnarvon distrik behou 49 % van die aandeelhouding. Mnr. Jannie Steenkamp word verkies as besturende direkteur en saam met Danie Franken, Lucie De Klerk en Hanlie Coetzee vorm hulle die bestuur van die nuwe maatskappy.

 
     
 

Carnarvon Abattoir (EDMS) BPK is geleë in die hart van die Groot Karoo en slag bykans 140 000 skaap per jaar uit suiwer Karoo bossieveld weiding wat bestaan uit bykans 7 000 spesies kruie plante wat oor miljoene jare so ontwikkel en aangepas het by ñ jaarlikse reënval van slegs 100 tot 350 mm. Hierdie natuurlike weiding met sy groot diversiteit gee aan die vleis een van die gesogste smake ter wêreld. Behalwe chemiese stowwe vir uitwendige parasiete word daar feitlik geen middels gebruik in die produksie van vee in die groot semi-woestyn gedeelte van Suid Afrika nie. Die slagtings beloop 90 % Dorpers, 10% Merino’s en in totaliteit is 85% van die slagtings A-grade of te wel lammers met gemiddelde karkas gewig van 16 tot 19 kilogram.

 
     
 

Die Abattoir is trots op sy moderne slagfasiliteite en higiëne standaarde wat hom in staat stel om vleis te voorsien aan al die leier Supermarkte in Suid Afrika. Die bemarking van karkasse word deur Just Lamb behartig.